Ek herhaal hierdie een...geniet dit..
DIE JAG OPERASIE
Dis jagtyd. Die manne is toegerus vir oorlog. Hulle is lus. En hulle is voorbereid. Patrone is gelaai volgens die slimste pel se spesifikasies, die kruit presies afgeweeg op die rykste pel se elektroniese skaaltjie, punte met sulke rooi puntjies waarmee die snipers skiet, is uit Amerika ingevoer. Cammo klere van die pet tot die stewels, tot die horlosiebandjie is bontgroen. Party het blou cammo aan, want wild kan glo nie blou sien nie. Die gewere het teleskope op wat direk uit Duitsland, via Amerika, van China af kom. Die goed kan stel tot die bok hier by jou staan, duur tegnologiese wonderwerke met baie knoppe.
En dis toe nou juis een van hierdie teleskope wat die gedoente veroorsaak het:
Dis een van daai spanne manne wat nie heeljaar jag nie, hulle sien heeljaar uit en jag eintlik gans te min om as ervare jagters deur te gaan. Maar hulle hou wel deur die jaar saam paartie. Dis waar hulle baie ervare is. Hulle kuier Saterdae in een van die lot se lapa en kyk rugby en vier oorwinnings of versuip verloor-games se hartseer en teleurstelling, tot almal weer gelukkig is. Soos manne mos maar maak. Niks opruiends of rof nie, daar's immers vrouens en kinders en bure om in ag te neem. 'n Gelukkige, spontane, hegte vriendekring. Goeie ouens, prokureurs, besigheidsmanne, 'n dokter, 'n ouditeur en 'n ingenieur of twee. Beskaafde manne. Tot die eerste aand van die jag, by die jagkamp in die lapa. Sonder vrouens en kinders en bure. Sonder inhibisies. Dan maak die manne honne los. En what happens in Vegas, stays in Vagas, is die ongeskrewe reël.
So kom die spul een eerste aand van die jag in die jagkamp aan. Opgewonde, vol grappe en kwinkslae, met nuwe speelgoed en baie drank. En die paartie begin.
Shots (dis nou kort vir Shorty) Duvenhage is die hanswors, en hy's op sy stukke, die manne brul van die lag. Die wat nog bakkies aflaai maak gou om by die gelag in die lapa te kom. En die proppe klap, die manne is dors!
Manie Botha, die lot se prokureur, en glo my, hulle het hom gereeld nodig, haal duur drank uit, en dis gou die onderwerp van bespreking. “Dis gesofistikeerd, dis goed, dis anders as Klipdrif en Tas en Skip en ****wyn. Dit is sag op die pallet. Die geur is blywend.” En die slimmes en die dommes proe die duur drank op. Toe is dit terug by Skip en Tas en Klippies en Coke, en toe's al die foute van die minder gegoede dranke vergewe, en toe praat die manne rugby.
Doep is nou aan die woord, hy het vir Shimlas gehaak en hy ken sy game, en die manne stem saam met Doep. En hulle kies die Węreldbeker span en bepaal hoekom ons dié keer gaan verloor. Hulle haal die coach en die spanbestuurders en die refs en die manne van SARU en die vlagmanne en die ball boys, almal uitmekaar uit, en hulle almal is saam verantwoordelik vir die feit dat ons nie eens die final gaan maak nie. En dis nie dat die manne negatief wil raak nie, dis feite. En dit net oor die politiek; die politiek het als bevark, als.
Toe kom die politiek ter sprake. “Zuma is 'n disgrace en Nkandla is 'n siek grap, Cyrel Ramaphosa kruip net gat by die Chinese en gaan nog hierdie land verkoop vir sy eie gatsak. Cosatu gaan die land doodwurg.” Ek dink nie ek moet veel verder uitbrei oor hierdie deel van die aand nie. Daar is min woorde gebruik wat ek in my storie kan gebruik as ek ouderdomsbeperking wil vryspring. Dit het aangegaan en opgebou tot Danie Nel in sy woede soveel hout op die vuur gesmyt het dat die ander begin kla het dat hulle nooit gebraai gaan kom nie, en toe gaan die krag genadiglik af vir beurtkrag, en almal skarrel vir lanterns en flitse en lig.
Hierna gaan die gesprek gelukkig na Eskom toe, en tussen Shots se klomp Eskom grappe deur het die gees darem weer gelig, en so het die elmboë weer begin lig, en nie lank nie toe is die politiek vergete en die manne kuier lekker.
Dis toe die vuur begin kleiner brand dat Faan Hechter toe oplet hoe helder die sterre is. Nie lank nie, of Piet van Vuuren gee 'n begeesterde lesing oor die sterre. Die manne is teen dié tyd warmer as die vuur, en hulle ken almal sterre. Japie Combrink, die span se dokter, verduidelik hoe om Suid te bepaal met die Suiderkruis, maar hy kom effe Wes van Noord-Oos uit soos hy slinger as hy opkyk. Nou loop haal die manne verkykers vir die gekykery. En hulle kyk en hulle drink en hulle slinger en dit lag. Joop, een van die manne met die nuwe teleskope, besluit hy gaan vanaand met sy teleskoop 'n satteliet bekyk en hy loop haal sy geweer. En so verskyn nog gewere met grend teleskope en die manne kyk sterrre.
Dries de Waal het 'n .458 Lott gekoop vir die jag, en dis toe hy en Joop op 'n stadium gewere ruil om teleskope te vergelyk, dat die flop toe gebeur. Joop is 'n kein, bleskop mannetjie en die .458 Lott is 'n monster van 'n geweer, en toe hy nou half teen die geweer opklim om die teleskoop te laat fokus op die man op die maan, toe druk hy die sneller. Daar gaan 'n skoot af wat klink soos donderweer en daai Lott skop soos 'n kameelperd! Die teleskoop slaan Joop se oogbank oop tot op die been. Lights out soos Eskom self. Daar lę Joop.
Die eerste reaksie in die groep is 'n verslae stilte. Toe skree een: “Joop is dood! In sy kop geskiet!” En toe maak die manne 'n kring en staar in verbasing na die lyk met die kopwond op die grond langs die vuur. Toe sien Dries sy nuwe Lott het in die vuur geval en hy ruk hom daar uit en vergeet heeltemal van die dooie Joop op die grond. Party manne begin droewig huil. Joop was 'n goeie ou. En hy't vrou en kinders.
Faan hou egter kop en voel Joop se pols. Hy leef nog! En toe sit die wat half nugter geskrik is, twee en twee bymekaar en die manne begin lag. Maar die kop bloei lelik, en hulle besluit dis tyd dat die spandokter sy slag kom wys. Japie het die vorige jaar klaargemaak op Stellenbosch en hy's besig met sy hospitaaljaar, en hy moet nou kom opereer maar hy weet van die petalje niks, hy't intussen in 'n bakkie uitgepass terwyl hy sy geweer gesoek het. Hy word hard wakker geklap. Joop is gelukkig nog bewusteloos. Japie loop haal slinger slinger sy tas en die manne voer hom 'n dop vir good luck en almal bring flitse en Japie vat nog 'n paar terwyl hy die gare deur die naald ryg. En die manne cheer en lag en drink op Joop en op die Lott wat uit die vuur gered is en op die maan en op die operasie. Hulle gooi brandewyn oor die bloeiende wond en Japie begin opereer!
Die volgende oggend slinger die spul uit die kooie uit en van die houthoop af en van langs die vuur af, en van waarvandaan hulle ookal getiep het of aan die slaap geraak het, toilet se kant toe, met blase wat blinkstyf staan. En toe soek hulle koffie. Die meeste nog winddronk, of babbelas met koppe te swaar vir hul nekke en oë halfmas oop.
Toe Joop die kombuis ingeskuifel kom, toe snak 'n paar manne na hul asems. In die helder lig van Eskom wat weer vir 'n verandering werk, is dit nie 'n mooi gesig nie. Kompleet 'n voorbode! Hy hou aan die kosyn vas en die koors slaan hittegolwe uit oor sy bebloede bles. Sy potblou regteroog knip-knip halfmas oop. Die ander oog is dik geswel, potblou, met rooiwarm infeksie rondom die diep pers swelsel. Die groot wond oor die oogbank is toegewerk met baie steke – so ook sy linkeroog. Die steke loop van die wond af, regoor sy oog, al oor die bebaarde wang, teen sy nek af, skuins oor 'n slag-aar, tot bo sy sleutelbeen. Daar is ook 'n paar vertakkings na sy linkeroor toe en een tot op sy bles. Al langs die pad van die strepe bloed soos dit teen sy kop afgeloop het. Twee en sewentig steke, om presies te wees!